Natalia da Rocha, bekende in die SA vermaaklikheidsw ê reld en haar span van Applauz Arts Initiative het ‘n splinternuwe “sangtalent”-konsep by Northlink Kollege bekendgestel wat sy beoog om binnekort na al die kolleges in die Wes-Kaap uit te rol. Die eerste twee uitdunrondtes was so suksesvol, dat die Top 15 Sondagaand, 4 Mei, in die Artscape Operahuis sake uitgespook het om die wenner te bepaal.
Hierdie kompetisie verskil van die bekende “Idols”-konsep in die sin dat die studente deur ‘n reeks werkswinkels opleiding ontvang om hulleself in die kunstew ê reld te handhaaf en te laat geld. Die vertoning het die vorm aangeneem van die bekende High School Musical en Chicago, met die verskil dat daar net nie so ‘n definitiewe storie aan verbonde was nie.
“Tydens die oudisies het ons besef dat daar uitstekende talent onder die studente is. Northlink beskik ook oor al die nodige logistieke en fasiliteite om ‘n groot sukses van hierdie geleentheid te maak”, het Natalia gesê.
Die studente het vir drie maande elke Saterdag en smiddae na klas geoefen om hulle voor te berei vir die groot aand. Tydens die oefeninge het hulle oor onder andere styl en voorkoms, choreografie, sangtegnieke, kontrakte en opnames gesels. Na slegs die eerste van hierdie reeks werkswinkels skryf Rina van Schalkwyk, een van die ouers die volgende: “Ek wil net baie dankie sê vir die geleentheid wat jul vir die kinders geskep het om hulself te kan voorberei in die vermaaklikheidswêreld. Ek glo dat elke sessie wat hul sal deurgaan hul sal help bou aan hul selfbeeld, persoonlikheid, verantwoordelikheid en menseverhoudings. Baie dankie!” Tydens die eerste van drie elimineringskonserte op 8 Maart is hulle tot 20 kandidate verminder. Dit was ‘n reuse sukses – die gehoor het die vertoning geweldig geniet – tot so ‘n mate dat die seremoniemeester soms onhoorbaar was as gevolg van die luide applous! Die Top 15 kandidate is op 12 April aangewys en daana het hulle reg deur die vakansie gewerk om hulle voor te berei vir die gala-geleentheid
Van die beoordelaars tydens die uitdunrondtes was Karin Kortjé (vorige Idolswenner) en Chantal Stanfield (7e laan-akteur). Tydens die finale rondte het Charlene Truter van Pasella.gehelp om die wenner te bepaal. Onder luide toejuiging is Kent Farmer (bemarkingstudent) as die wenner angewys. Franklin Mathebula (gasvryheidstudies) was tweede en Jeanique Fourie (bemarking) derde. Hulle het almal ‘n groot klomp pryse ontvang, waaronder kontantpryse ter waarde van R10 000.
Die kompetisie geniet reeds die welwillendheid van RSG en Radio Tygerberg wat ‘n enorme bydrae gemaak het ten opsigte van reklame vir hierdie saak – dis ‘n groot inspuiting vir studenteondersteuning, maar ook ‘n uitstekende manier om kolleges in die Weskaap te bemark. 6 voorafoptredes, onder andere by Hoërskool DF Malan en die Bellville Stadsaal voor volsale, bewys dat Songstar sy naam vooruit loop. Natalia wil baie graag teen die einde van die jaar ‘n Songstar WesKaap Kolleges aanwys. ‘n Groot geleentheid vir FET kolleges voorwaar!